deur Richard Steyn
Die eiesoortige vriendskap tussen Winston Churchill en Jan Smuts is ’n studie in kontraste. In hul jeug het hulle uiteenlopende werelde bewoon: Churchill was die weerbarstige en energieke jong aristokraat; Smuts die asketiese, filosofiese Kaapse plaasseun, wat later aan Cambridge sou gaan studeer. Daar sou hy die eerste student word wat albei dele van die finale regskursus in dieselfde jaar neem en al twee met onderskeiding slaag.
Nadat hulle in die Anglo-Boereoorlog eers as vyande, en later in die Eerste Wêreldoorlog as bondgenote byeengebring is, het die mans ’n vriendskap gesmee wat oor die eerste helfte van die twintigste eeu gestrek het en tot Smuts se dood in 1950 voortgeduur het. Richard Steyn bestudeer die hegte vriendskap deur twee wêreldoorloë aan die hand van ’n magdom argiefstukke, briewe, telegramme en die omvangryke boeke wat oor albei mans geskryf is.